Laerskool Secunda bedank vriende tydens spesiale geleentheid

Me. Petro Scheepers (Graceland Hotel, Casino en Buiteklub), me. Marietha Cole (hoof van Laerskool Secunda), me. Veneshrie Chetty (Graceland) en me. Lizelle van Zuydam (Laerskool Secunda se bemarker) by Laerskool Secunda se vriende-aand.

SECUNDA – Laerskool Secunda het hul jaarlikse vriende-aand op Woensdag, 15 Februarie aangebied.

Dié aand is een van die hoogtepunte op die skool se sosiale kalender en word gesien as die perfekte geleentheid om die plaaslike gemeenskap wat die skool gereeld ondersteun, vir hul bydraes tot die skool te bedank.

Me. Marietha Cole, hoof, het verduidelik dat Laerskool Secunda ’n ryk geskiedenis het as die eerste laerskool in die omgewing.

“Ons skool se deure is sedert 1978 oop en in ’n dorp soos Secunda, is die publiek se samewerking baie belangrik.

“Ons moet daar wees vir mekaar en mekaar ondersteun, want dit is hoe mens jou plaaslike omgewing ontwikkel en ’n sterk netwerk bou.”

Me. Cole het ook oor die skool se sterk akademie uitgebrei en na die gemeenskap en rolspelers in die gemeenskap verwys as ’n skaakbord en skaakstukke wat saam moet werk.

“Ons leerders leer al van vroeg af skaak speel by die skool, want dit help hulle in wiskunde.

“Daarom werk die metafoor van ’n skaakbord en stukke wat elkeen ’n unieke rol het om te vervul, vir my goed as ek die plaaslike gemeenskap wil verduidelik.

“Ons as skool is werklik dankbaar vir elke persoon wat sy rol op só ’n manier vervul dat hulle iets vir die skool en die kinders beteken.”

Me. Cole het ook haar opwinding gedeel oor al die projekte wat die skool vanjaar wil aanpak en ondernemings en die publiek genooi om die skool te skakel met enige opwindende idees of om deel te word van een van die bestaande projekte.

  AUTHOR
Willemien Aukema
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Top 10 Laerskool Marietjie van Niekerk gr. 7 leerders aangewys