Laat jou lig vir Marunell skyn

Hoe kom ’n ouer oor die dood van ’n kind?

Die kort antwoord is ’n mens kom nie daaroor nie.

Die langer antwoord is: “’n Mens kom nooit daaroor nie, dit word deel van jou wese, van jou storie en jy leer net hoe om daagliks aan te hou leef, aan te hou glo en aan te hou om jou lig te laat skyn.”

Só het mnr. Giepie en me. Anelda Maritz verduidelik.

Hul dogter, Marunell, is op 5 Junie verlede jaar in ’n fratsongeluk op hul plaas net buite Charl Cilliers dood, net ses dae na haar vyfde verjaarsdag.

Die egpaar het lank gewag voordat hulle besluit het om hul verhaal met die Ridge Times te deel, maar het besluit dat dit moontlik iets vir ander ouers kan beteken.

“Vakansies, familiedae, verjaarsdae en ander herdenkings is baie erg, dan is die pyn en die seer sommer op die oppervlak en voel mens weer rou,” het me. Maritz gesê.

Ondersteuning van familie, vriende en hul gemeente is wat die Maritz-egpaar die moed gee om aan te hou leef.

Hulle het ook ’n seun wat ’n paar jaar ouer as Marunell is en hul onvoorwaardelike liefde vir hom en vir mekaar hou dié gesin aan mekaar.

Volgens mnr. Maritz het hy en sy gesin ook in die maande na die ongeluk selfs nader aan God beweeg.

“Dit is asof ons na die ongeluk al hoe meer na Hom gesmag het, en ons gemeente en dominees se ondersteuning was ongelooflik.”

Nie almal was egter so ondersteunend nie en een ding waaroor hulle sterk voel, is dat mense moet verstaan hoe seer woorde kan maak.

“Om vir my te sê: ‘Die duiwel wou steel, toe gryp God in’ of ‘God het Sy mooiste blom kom pluk’, het baie seergemaak en my frustreer.

“My dogter was my lewe, moenie dit sagter probeer maak deur haar ’n blom te noem of iets belaglik te sê nie,” het me. Maritz gesê.

Haar man se grootste frustrasie is mense wat met halwe waarhede die storie verkeerd versprei het en sodoende hul gesin seergemaak het.

“Ek het op die ou einde die patoloog se verslag gelees sodat ek sekerheid kon kry oor wat gebeur het.”

 

Lees die volledige berig in die Ridge Times.

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder

“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram

Me. Anelda en mnr. Giepie Maritz het dié ligtoring gekoop om op hul kerk in Charl Cilliers se kansel te sit ter herinnering aan hul dogter, Marunell.

Me. Anelda en mnr. Giepie Maritz het dié ligtoring gekoop om op hul kerk in Charl Cilliers se kansel te sit ter herinnering aan hul dogter, Marunell.

.

  AUTHOR
Willemien Aukema
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
[Photo gallery] Home Killers suffered an 3-1 defeat against Kinross Spain