Gefrustreerde Secunda-inwoners herstel self waterlek

Mnr. Freek Volschenk het uit sy eie kom help om die waterpyp in Buhrmanstraat te herstel.

Inwoners van Buhrmanstraat was vir groot dele van verlede week sonder water omdat die Govan Mbeki Munisipaliteit nie die regte voertuie of toerusting vir die herstel van ’n gebarste waterpyp gehad het nie.

Die waterprobleem het aanvanklik begin toe ’n waterpyp verlede Dinsdag deur die loop van die nag gebars het.

Hoewel die munisipaliteit in kennis gestel is, kon hulle nie die pyp herstel nie omdat daar glo nie ’n voertuig beskikbaar was nie.

Volgens me. Mariaan Chamberlain, DA-raadslid, was daar verlede week net twee voertuie beskikbaar vir streek 2 van die munisipaliteit.

“Dit beteken dat Kinross, Leslie, Secunda, Evander, Trichardt, Eendracht en Leandra met twee bakkies moes klaarkom.”

Die res van die bakkies is buite werking weens onder andere gewone herstelwerk en ongeldige voertuiglisensies.

Govan Mbeki Munisipaliteit is Donderdag, 24 Augustus vir kommentaar oor die voertuigkrisis én die gebarste pyp gevra, maar hulle het nie reageer nie.

’n Herstelspan het uiteindelik opgedaag, maar hulle het nie die regte toerusting gehad nie en die pyp se herstelwerk sou weer moes oorstaan.

Die munisipaliteit se stootskraper is steeds buite werking en hulle het nie ander basiese toerusting nie.

Inwoners van Buhrmanstraat, onder leiding van me. Chamberlain, het besluit om self te probeer om die probleem op te los.

Mnr. Freek Volschenk het uit sy eie kom help om die waterpyp in Buhrmanstraat te herstel.

“Mnr. Freek Volschenk, wat al vantevore uitgehelp het as die munisipaliteit nie die regte toerusting gehad het nie, het sy stootskraper gebring, iemand het sy kettingsaag vir die werkers geleen en toe die waterpomp nie brandstof gehad het nie, het inwoners selfs daarmee gehelp.”

Nadat die waterpyp herstel is, het mnr. Volschenk sy stootskraper ook na Kuschkestraat geneem, waar hy gehelp het om nog ’n waterpyp te herstel.

Teen Vrydagoggend het die munisipaliteit besluit om die hele pyplyn in Buhrmanstraat te vervang en het mnr. Volschenk weer sy stootskrapper gebring, maar omdat die werkers teen 3nm wou ophou werk, was daar nie genoeg tyd om die pyplyn te vervang nie en moes die werk oorstaan tot Saterdag.

“Saterdag het die span vanaf 9vm tot na 7nm gewerk om die pyplyn te herstel en met die hulp van al die gewillige inwoners, blyk dit die probleem is vir eers opgelos,” het me. Chamberlain gesê.

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder

“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.

Secunda se infrastruktuur word nie onderhou nie

  AUTHOR
Willemien Aukema
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Mini-substation in Secunda poses a safety risk