Nuwe intrekker verloor R5 000 in bedrogspul

’n Nuwe intrekker het R5 000 verloor nadat sy in die strik van ’n plaaslike bedrogsindikaat getrap het.

Die vrou, wat anoniem wil bly, het op ’n advertensie vir ’n huis wat glo te huur was, afgekom.

“Ek het baie van die voorkoms van die huis gehou en die prys was reg, so ek het dadelik ’n afspraak gemaak om na dit te gaan kyk.

“’n Jong man het my daar ontmoet en deur die hele huis geneem en selfs gewys waar sy ‘eie motor’ in die motorhuis staan.”

Die jong man het ’n uniform van ’n plaaslike onderneming aangehad en t-hemde met dié onderneming se naam op het op die draad gehang.

“Ek het baie gemaklik gevoel hiermee, want ek ken dié onderneming goed en ek het die jong man vertrou.”

Sy het per epos verder met die “verhuurders” gepraat, en kort nadat sy die huis gesien het, het sy hulle laat weet dat sy die aanbod aanvaar.

“Sommer vinnig daarna het hulle vir my ’n epos gestuur en gesê ek moet asseblief die deposito betaal omdat daar baie belangstelling in die huis is.

“Ek het gevra vir ’n huurkontrak voordat ek iets oorbetaal en hulle het dadelik vir my een aangestuur.”

Die kontrak se eerste paar bladsye was duidelik, maar die laaste bladsye was te dof om te lees.

Sy het gevra dat hulle die kontrak weer deurstuur en het verduidelik dat sy op pad bank toe is.

“Hoewel ek nog nie die tweede kontrak gekry het nie, het ek met hul bankbesonderhede na my bank gegaan en gevra dat hulle seker maak dat alles in orde met die betrokke rekening is.

“Die bank het gesê alles lyk reg en dat daar nie volgens hulle enige waarskuwingstekens is nie.”

Sy was deurlopend in kontak met die “verhuurder” wat aanhou belowe het om die kontrak deur te stuur.

Die “verhuurder” het verduidelik dat hy sukkel met sy epos en dat hy eerder die kontrak persoonlik aan haar sou gee daardie middag.

“Ek het met die ‘verhuurder’ ooreengekom om hom om 3.30nm by die huis te ontmoet.”

Op die ou einde het sy die volle deposito oorbetaal.

Sy het ook gesorg dat sy vroegtydig by die huis is daardie middag en het bykans 20 minute vir die “verhuurder” gewag voordat sy weer die jong man geskakel het om seker te maak dat iemand gaan opdaag.

Hy het geantwoord en gesê dat hy iemand anders sou stuur omdat hy werk.

“’n Vreemde vrou het dié keer opgedaag en toe ek verduidelik wie ek is, waarvoor ek wag en dat ek reeds die deposito betaal het, het sy summier vir my gesê ek is gekul en dat haar seun op dieselfde manier gevang is voordat sy in haar motor geklim en weggejaag het.”

Sy weet nie wie dié vrou was nie, maar sy werk glo by dieselfde onderneming as die jong man.

“Ek verstaan nou nog nie heeltemaal wie almal betrokke is nie, maar ek het intussen uitgevind dat die huis aan die eienaar van daardie onderneming behoort en eintlik deur ’n plaaslike agentskap verhuur word.

“Waarom die man se werknemers toegang tot die huis het en voorgee dat hulle die verhuurders is, weet ek nie, maar ek gaan die saak nie net daar los nie.”

Die vrou wil ander inwoners waarsku teen dié soort lokvalle en mense wat op soortgelyke maniere gekul is, aanraai om die saak by die polisie aan te gee.

“Sorg dat jy altyd eers ’n kontrak teken in die teenwoordigheid van getuies voordat jy enige iets betaal.”

’n Saak van bedrog is by die Secunda Polisiestasie geopen en word tans ondersoek.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder

“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.

  AUTHOR
Willemien Aukema
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Nico en Manie vertrek na Marrokko