Local news

Almal verdien ’n tweede kans

Egpaar help mense wat enige vorm van mishandeling ondervind.

BETHAL – Past. Walter en me. Theresa Stander het onlangs ’n huis van restourasie genaamd Kuriaké geopen waar hulle slaggoffers wat enige vorm van mishandeling ondervind, inneem en hulle deur ’n ondersteuningsprogram neem.

Die egpaar het ’n behoefte in die gemeenskap raakgesien en gebruik nou die geleentheid om mense te help.

Dié huis is tussen Trichardt en Bethal langs die N17-snelweg op die plaas Sterkfontein geleë en hulle het tans 20 mense onder hul sorg, maar kan sowat ‘n honderd huisves.

Die program waaraan die slagoffers deelneem, strek oor nege maande waartydens hulle fisiese, geestelike, emosionele en finansiële ondersteuning ondergaan.

“Ons stap die ekstra myl om ons slagoffers ook ná die program te help deur hulle ’n werk te gee en om te sien dat hulle hul salaris sinvol gebruik.

“Die versoeking in die buitewêreld is moeilik en elkeen het ondersteuning nodig.”

Baie familielede en vriende staan die slagoffers tydens hul behandeling by.

Daar word elke oggend met gebed geopen en volgens past. Walter kan niks sonder geloof bereik word nie.

Hul bron van inkomste is hoofsaaklik van plaaslike ondernemings en mense wat hulle bystaan en ondersteun.

Past. Stander was vir agt jaar in die tronk nadat hy skuldig bevind is aan moord en tot 16 jaar tronkstraf gevonnis is.

Sy verhouding met God het in die tronk met tyd sterker geword.

Volgens hom het hy ’n bakleiery tussen sy oorlede vrou en skoonma probeer verhoed.

Hy het sy vrou gestamp en sy is op slag dood, terwyl sy skoonma beseer is.

“Dit het my jare geneem om my vrou se dood te verwerk.”

Nadat hy uit die tronk ontslaan is, het hy in die bediening gegaan en straatkinders wat dwelmverslaafdes was, in sy sorg geneem.

Baie kerke was teen hom gekant omdat hulle geglo het hy bring dwelms in hul gemeenskap in.

Elf klagtes van verkragting is teen hom gemaak deur meisies en vroue in die gemeenskap.

Hy is toe vir drie jaar tronk toe gestuur.

Past. Stander is as ’n hoë profiel misdadiger geklassifiseer.

Hy het net sy Bybel as geselskap in die tronk gehad en die tronkwagte het hom een maal ’n dag buite toe geneem.

Hy het daar ’n brief aan die Here geskryf waarin hy om vergifnis gevra het.

Sy lewe het drasties verander toe hy homself vergewe en besef het dat alles wat met hom gebeur het, ’n doel gehad het.

Hy was op Kersdag in 2010 toegelaat om fisiese kontak met sy familie tydens besoektyd te hê, en volgens hom was dit die vinnigste uur in sy lewe.

Hy het sy droomvrou waarvoor hy gebid het, ook op dieselfde dag gevind en sy het sy beskrywing perfek gepas, naamlik ’n vrou met donker hare, bruin oë en morele waardes.

“Dit was 15 sekondes in my lewe waartydens ek geen beheer oor my denke en emosies gehad het nie en ek het geweet dit is die vrou wat God vir my gespaar het.”

Hy het haar een keer gebel en gesê hy het haar lief en sy het begin huil en gesê: “Ek het geweet jy gaan dit sê”, en het hom kort voor lank gereeld in die tronk besoek.

Die egpaar is reeds vyf jaar getroud en ondersteun mekaar in elke uitdaging wat hulle aanpak.

“God het my van ’n tronkvoël na ’n arend verander en ek kan Hom nie genoeg prys vir die tweede kans wat Hy my gegee het nie,” het past. Stander gesê.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons webtuistes:

Ridge TimesStanderton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 29C64351

WhatsApp – 082-611-3867

Related Articles

 
Back to top button
X

.

Renew Now
Subscribe to notifications