Tuisonderrig is ’n ander opsie

Vusi Ndlela, Jessica Schreuder, Timothy Harris en Lihann Kriek geniet die geleentheid om tuisonderrig te kry.

SECUNDA – Daar is nou ’n alternatief vir ouers wat glo hul kinders sal baat by die rustigheid en persoonlike aandag van tuissonderrig, maar wat nie noodwendig die tyd en geleentheid het om dit self te doen nie.

Shalom Kids, wat op die terrein van die Cross Generation Kerk op Secunda geleë is, bied iets tussen gewone tuisonderrig en hoofstroomskoolonderrig.

Me. Juanita Schreuder, stigter van die tutorsentrum, het verduidelik hoe dit tot stand gekom het: “My eie kinders het net nie goed in die hoofstroomskoolstelsel ingepas nie en ek het verlede jaar met tuisonderrig berig.

“Ek het ’n passie vir onderrig en is mal daaroor om met kinders te werk, so kort voor lank het ek besef dat daar ’n behoefte aan dié soort onderrig vir kinders op Secunda is.”

Me. Schreuder het navorsing gedoen en op die ou einde op ’n kurrikulum besluit wat in Afrikaans en in Engels beskikbaar is, en besluit om dit ook vir ander kinders by die sentrum beskikbaar te stel.

Nie elke ouer wat sy kind tuis wil onderrig kan dit bekostig om by die huis te bly nie, en dit is waar die tutorsentrums inkom.

“Ons plan is nie om ’n reuse skool te wees nie, ons wil altyd sorg dat daar nie meer as sewe kinders per tutor is nie, sodat elke kind steeds die voordeel van rustige, een-tot-een aandag kan kry.”

Die sentrum het verlede jaar net vier leerders gehad en het nou 10 leerders tussen gr. 3 en gr. 10 en met die kurrikulum wat me. Schreuder gekies het, kan leerders maklik hul nasionale sertifikaateksamen skryf en universiteitsvrystelling kry.

“Ons is ook ingerig om die kinders onder die regte omstandighede te laat eksamen skryf, met ’n saal en toesig sodat die jonger kinders gewoond daaraan kan raak as hulle in gr. 10, gr. 11 en gr. 12 by ’n hoofstroomskool moet gaan eksamen skryf.

Me. Schreuder is een van die twee tutors by dié sentrum en geniet dit om die kinders onder haar sorg te help om volgens hul eie tempo te leer.

“Die lekkerte van die kleiner groepies is dat kinders nie so maklik gefrustreerd raak met die werk nie.

“Dié kinders wat vinnig deur die werk kom, kan eenvoudig net aanhou en na die volgende opdrag aanbeweeg sonder om verveeld te raak omdat hulle moet wag.

“Kinders wat egter bietjie ekstra leiding nodig het, kry dit omdat daar so min kinders per volwassene is en die tutor sal maklik reg langs die kind kan sit en die nodige aandag gee.”

Die kinders wat by die sentrum kom studeer, bly ook aktief.

Hulle speel gereeld in die middae sokker of bofbal en daar is weekliks interessante aktiwiteite om hulle kreatief besig te hou.

“Ons probeer weekliks iets lekker doen, soos interessant aantrek of speletjies speel.

“Die kinders is ook sosiaal aktief, omdat hulle nie net met kinders van hul eie ouderdomme meng nie.

“Hier leer ons hulle om vriendelik en goed gemanierd te wees en hoe om met enige iemand oor die weg te kom.”

Dissipline was tot dusver nog nie ’n probleem nie, maar daar is stappe in plek om saam met die ouers kinders aan te spreek indien nodig.

Die sentrum is voldag oop en bied ’n veilige plek vir kinders om te studeer.

“Elke kind is uniek en spesiaal en ek glo daar is beslis plek op Secunda vir ’n sentrum soos dié wat nog ’n opsie vir ouers en kinders is wat die beste moontlike onderrig wil hê.

“Ouers wat belangstel in tuisonderrig, kan ons kom sien of vir my ’n epos stuur, sodat ons kan saamwerk om seker te maak hul kind kry die heel beste geleentheid wat by die ouer én die kind se behoeftes pas.”

Vir meer inligting, stuur ’n epos na [email protected]

  AUTHOR
Willemien Aukema
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Laerskool Goedehoop leerders geniet skaak