Kommer oor toestand van Bethal se water- en padinfrastruktuur

’n Varswater lek op Moses Kotane, een baan die hoofweg is gesluit. Die pad het na onder begin verbrokkel as gevelg van die water wat daar af loop.

BETHAL – Inwoners raak al hoe meer bekommerd oor die toestand van die dorp, veral die varswaterlekke waarvan sommiges reeds in September verlede jaar by die munisipaliteit aangemeld en nog nie herstel is nie.

Govan Mbeki Munisipaliteit het in Oktober waterbeperkings aangekondig weens die droogte.

Dié beperkings is steeds van krag.

“Die water loop by die strate af, maar ons moet spaar.

“Duisende liters drinkwater word vermors en ek verstaan dit nie,” het ’n ontstoke Bethaller gesê.

Dié lekke veroorsaak ook skade aan ander infrastruktuur, soos die dorp se paaie wat tot groot skade vir motoriste lei.

Volgens me. Marietjie Fourie, DA-raadslid, kan die raad nie rekenskap gee vir 23 persent van die water wat by Rand Water aangekoop word nie.

Onwettige waterverbruik en -vermorsing hou nie net groot koste-implikasies vir die munisipaliteit in nie, maar ook vir die belastingbetaler.

Nie net word water in groot maat vermors nie, die gate wat agtergelaat word nadat ’n pyp herstel is, is ’n groot veiligheidsrisiko vir die publiek.

Sommige van dié gate word glad nie beveilig nie en staan vir weke oop.

Waterlekke dra ook by tot die verswakking van die paaie en tot groot slaggate, veral in Naudéstraat.

Nog ’n inwoner van Bethal het op Facebook haar frustrasie oor dié pad uitgespreek en gesê dat die waterlek al herstel is, maar dat dit onlangs weer begin lek het en dat die water wat loop, slaggate oor een baan van die pad veroorsaak het.

Die varswaterlek in Moses Kotanestraat is op 17 Maart herstel, maar het vir twee weke gelek nadat dit aangemeld is.

Die herstel van die pyp is belemmer omdat die munisipaliteit glo vir onderdele moes wag.

So ook is die waterlek by die ou Nestlé-brug op die hoek van Malherbestraat en Stasieweg nog nie heeltemal herstel nie.

Hoewel die gate met grond toegegooi is, lek daar steeds water.

Govan Mbeki Munisipaliteit se woordvoerder, mnr. Bheki Kubheka, het gesê hulle is bewus van die lek en het al daaraan gewerk, maar dat hulle ook hier vir onderdele gewag het om die lek heeltemal te herstel.

  AUTHOR
Carmen de Lange
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Projek voorsien sop aan Bethal-behoeftiges en -bejaardes