Roelien verheug oor skenking

Roelien Mans sit in haar rolstoel langs die badhyser wat aan haar geskenk is. Sy wys verheug oor dié skenking.

Die Ridge Times het op 5 April oor Roelien Mans berig waar haar ma om hulp gevra het om haar dogter te makliker te kan bad.

Lees gerus ook – Roelien glimlag ten spyte van haar omstandighede

Roelien het tydens haar geboorte ’n tekort aan suurstof ondervind.

“Dokters het verduidelik dat die gedeelte van haar brein wat haar spraak- en motoriese vermoë beheer, aangetas is nadat sy nie suurstof gekry het nie,” het haar ma, me. Roelien Rheeder, vertel.

Roelien is nou 20 jaar oud en kan nog nie vol sinne praat nie en maak van gebare gebruik en die paar woorde wat sy wel kan uitspreek, om te kommunikeer.

Haar ma het gevra of daar iemand is wat hulle kan help met toerusting wat dit vir hulle makliker sal maak om vir Roelien te bad.

Mnr. Gus en me. Kobie Pretorius van Kriel het vir Roelien ’n spesiale stoel gegee.

Dié stoel pas in die bad en werk met ’n meganisme wat die stoel in die water laat sak en weer uit die water lig.

“Ek het nie woorde gehad toe Tannie Starna by my kom en sê sy het biae goeie nuus nie, iemand het ’n bad ‘hoist’ geskenk vir my dogter Roelientjie,” het me. Rheeder gesê.

Die Pretorius-egpaar het nie net die badhyser vir Roelien geskenk nie, maar ook ’n opblaasenkelbedmatras wat baie met die bloedtoevoer na Roelien se bene sal help.

“Ek wil net vreeslik baie dankie vir Gus en Kobie sê.

“Baie, baie dankie ons waardeer dit opreg.

“Ek wil ook vir Tannie Starna Lundall dankie sê wat alles gereël en hanteer het.

“Dankie aan die Ridge Times vir die goeie artikel oor Roelientjie, ons het nie gedink ons gaan so gou hulp ontvang nie.

“Ek kan nie genoeg dankie vir almal sê nie.

“Badtyd is nou baie meer gerieflik,” het me. Rheeder gesê.

Al kan Roelien net ’n paar woorde uitspreek, gesels sy heeltyd saam en hou nie op lag en glimlag nie.

“Roelien kon op agt maande steeds nie regop sit nie en ek het besef dat iets fout is.

“Sy was byna ’n jaar oud toe my man en ek uitmekaar is.

“Ek moes haar alleen grootmaak en het tussendeur probeer werk ook.

“Roelien is baie lief vir babas en diere en werk sag met hulle,” het me. Rheeder gesê.

Roelien het met fisio- en spraakterapie begin.

“Die terapie het gehelp en sy het begin sit en loop, maar kon nog nooit praat nie.

“Sy was eers drie jaar oud toe sy begin loop het en het toe vir ons weggehardloop,” het me. Rheeder gesê.

Roelien was vir ’n tyd in Marietjie Skool, maar weens sekere omstandighede, kon haar ma haar nie in die skool hou nie.

Sy was nege jaar oud toe haar voete binnekant toe begin trek het en sy op haar hakke en die buitekant van haar voete begin loop het.

Haar ma het nie ’n mediese fonds of genoeg geld gehad om haar na spesialiste te neem nie.

Me. Rheeder is later getroud en sy en haar man het Roelien na ‘n spesialis geneem.

“Roelien kon glad nie haar voete beweeg nie.

“Dit was baie styf en na binne getrek en sy kon glad nie haar voete draai of heen en weer swaai nie.

“Die dokter moes aan haar spiere sny en dit aan die anderkant van haar voete heg.

“Na die operasie kon sy weer haar voete beweeg, maar sy was vir só lank in ’n rolstoel, dat sy dit heeltemal verleer het om te loop en haar spiere is verswak,” het sy verduidelik.

Haar ma het haar na die gimnasium op die dorp geneem waar me. Yolanda Porter haar spesiale oefeninge laat doen het.

Haar balans het mettertyd verbeter en haar bene het ook versterk.

Me. Rheeder het musiek gemaak en gesing terwyl haar dogter nog kon loop.

Dit was die enigste inkomste wat sy gehad het.

Toe Roelien nie meer kon loop nie, moes haar ma voltyds na haar begin omsien en kon nie meer werk nie.

Me. Rheeder moet vandag alles vir haar dogter doen.

“Ek help haar om die toilet te gebruik en bad haar.

“Ek sal haar nooit in ’n inrigting of tehuis kan sit nie.

“Haar pa het haar weggegooi, maar ek sal haar nooit weggooi nie.

“Niemand sal haar versorg soos ek haar versorg nie,” het me. Rheeder gesê.

  AUTHOR
San-Marié Cronjé
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Signs and symptoms of the use of Nyaope