Inwoners is die afgelope paar weke deur infrastuktuurkrisisse in Secunda geteister

Inwoners is die afgelope paar weke deur infrastuktuurkrisisse geteister.

Straatligte wat nie werk nie of sommer afgebreek is, waterpype wat bars en riool wat oorloop en in huise en erwe vloei, het Govan Mbeki Munisipaliteit behoorlik besig gehad.

Een van die hoofklagtes wat inwoners tans het, is die aanhoudende probleem met stukkende straatligte in verskeie dele van Secunda.

 

Ten spyte daarvan dat die munisipaliteit in Junie belowe het dat hulle ’n daadwerklike poging gaan aanwend om dié probleem aan te spreek, is daar steeds meer as 70 strate in die groter Govan Mbeki Munisipale gebied wat steeds sonder straatligte sit.

Die herstelprojek wat die munisipaliteit geloods het, het hier en daar ’n verskil gemaak en met behulp van twee ekstra “Cherry Pickers” wat aan die munisipaliteit geleen is, het hulle begin om straatligte te herstel.

Die tekort aan gepaste toerusting en voertuie het ook veroorsaak dat die helfte van die dorp vir bykans twee dae sonder water was.

’n Pyp het in Generaal Kempstraat in die vroeë oggendure van Donderdag, 29 Junie gebars en dit is herhaaldelik by die munisipaliteit aangemeld.

 

Die herstelspan het egter eers na middagete met die herstelwerk begin.

“Dit is verstaanbaar dat waterpype in die winter bars en ’n mens kan nie daarvoor voorsiening maak of dit probeer voorkom deur onderhoud te doen nie, maar daar is geen verskoning daarvoor om meer as nege ure te neem voordat jy daaraan begin aandag gee nie,” het ’n ontstoke inwoner gesê.

Donderdagaand net na 10nm het nog ’n pyp in Echostraat gebars.

Die herstelspan het eers 12 ure later daaraan begin werk omdat hulle eers die finale herstelwerk aan die pyp in Generaal Kempstraat moes voltooi.

Me. Mariaan Chamberlain, DA raadslid en lid van die munisipaliteit se tegniese portefeulje, beweer dat een van die grootste probleme is dat die munisipaliteit tans ’n tekort aan toerusting het.

“Daar was net een trekker-terugwerker (TLB) beskikbaar, wat beteken het dat die herstelspan net aan een pyp op ’n slag kon werk, daarom het die tweede gebarste pyp in Echostraat so lank geneem om reggemaak te word.”

Die munisIpaliteit het Vrydag gesê dat die herstelspan eers na Echostraat sou kon gaan as die werk in Generaal Kempstraat afgehandel is.

Inwoners het net begin ontspan na die paar dae sonder water, toe die elektrisiteit Vrydagaand afgegaan het.

Volgens die munisipale klagtekantoor was die oorsaak van die kragonderbreking ’n brand by ’n substasie en die probleem is met behulp van die brandweer deur die nag uitgesorteer.

’n Verdere probleem het kop uitgesteek toe ’n rioolafvoerpyp in Kliprivierstraat op Secunda Donderdag begin oorloop het.

Die rioolwater wat uit die verstopte pyp uitgeborrel het, het in huise en erwe ingestroom en die munisipaliteit het eers teen Sondag die verstopping herstel.

Volgens ’n inwoner het die munisipale werkers egter niks gedoen aan die riool wat reeds uitgelek het nie en die sypaadjie, opritte en tuine in Kliprivierstraat was Maandagoggend nog toe onder rioolwater.

Me. Chamberlain, wat ook hier betrokke was, het verduidelik wat die regte prosedure eintlik is: “Die riool wat oorstroom het, moet met kalk of chloor geneutraliseer word omdat dit steeds ’n gesondheidsrisiko daarstel, maar dit is nie gedoen nie.”

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder

“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.

  AUTHOR
Willemien Aukema
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Munisipaliteit los kragkabels in Bethal woongebied oop na herstelwerk