Bethallers ruim leë erf op

Me. Erna Duvenhage en mnr. Sam Vermaak voor die bakkie met die vrag swartsakke agterop.

Twee inwoners van Bethal het onlangs besluit om ’n lee erf wat op die N17-hoofweg geleë is, self skoon te maak.

Mnr. Sam Vermaak en me. Erna Duvenhage was moeg vir die optrede van ’n man wat op die leë erf woon.

Volgens mnr. Vermaak urineer die man in die straat en gooi hy onder andere bakstene na voertuie.

Die erf was só vuil dat hulle van mening was dat dit nie ’n goeie prentjie van Bethal skep nie, veral vir motoriste van ander dorpe wat die roete gebruik.

Die erf is op die hoek van Du Plooy- en Moses Kotanestraat geleë.

Die huis wat eers daar was, het afgebrand en iemand het dit gesloop.

Daar lê egter steeds bourommel rond en mnr. Vermaak het reeds gereël dat ’n onderneming met die nodige masjiene binnekort die bourommel verwyder.

Altesaam 180 swartsakke is tydens die onlangse opruiming volgemaak en deur mnr. Vermaak na die stortingsterrein vervoer.

Hulle het die opruiming met die hulp van twee werkers gedoen.

Mnr. Harry Greyling van die Govan Mbeki Munisipaliteit het 80 swartsakke geskenk, terwyl mnr. Jeandre Venter 40 geskenk het.

Mnr. Vermaak het gesê dat die erf ’n veiligheidsrisiko inhou vir mense rondom dit.

“Niemand doen iets oor die man wat daar woon nie.

“Hy is gek oor papiere en wanneer die wind waai, is hy op sy gelukkigste want papiere vlieg die wêreld vol,” het mnr, Vermaak gesê.

Die erf behoort aan mnr. Jannie van Heerden wat deesdae in Australië woon.

Mnr. Vermaak het die eiendomsagent genader om mnr. Van Heerden se eposadres te kry, maar die agent het geweier.

Die twee inwoners het beplan om die afgelope Saterdag die terrein verder skoon te maak.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder

“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.

Me. Erna Duvenhage en mnr. Sam Vermaak voor die bakkie met die vrag swartsakke agterop.

Werkers vul swartsakke met vullis tydens die opruimingsaksie by ’n erf wat op die N17-hoofroete geleë is.

  AUTHOR
Wilma van Vuuren

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
[Fotogalery] Aquazone swemfees lok baie swemmers