uMkhoto Rugby-instituut op Secunda help jong spelers

Pieter de Villiers het moeite gedoen om met die jong spelers te praat en te verduidelik wat elke oefening behels.

’n Groep gedrewe jong rugby-afrigters van Secunda het ’n leemte in die sport gesien en besluit om met ’n oplossing vorendag te kom.

Lucas Meiring, Albert Biddlecombe en Dean du Rand van Hoërskool Secunda het die uMkhonto Rugby-instituut op die been gebring en werk sedert die begin van die jaar daaraan om jong spelers te help ontwikkel.

“Ons hoofdoel met die instituut is om minderbevoorregte spelers die geleentheid te bied om afrigting van ’n hoë gehalte te kry, en hul eie talent daardeur te ontwikkel sodat plaaslike spelers op provinsiale en selfs nasionale vlak sal uitblink,” het Lucas verduidelik.

Die instituut werk nou saam met die Investec Rugby-instituut en elke drie maande bied hulle ’n geleentheid aan waar oud-Springbokspelers en -afrigters saam met die seuns kom oefen en aan spesifieke tegnieke werk.

Pieter de Villiers het moeite gedoen om met die jong spelers te praat en te verduidelik wat elke oefening behels. Hier luister Revonne Singh na hom.

Pieter de Villiers het onlangs ’n kursus op Secunda aangebied en die spelers het waardevolle insette oor tegniek, balvaardigheid en die belangrikheid van fiksheid by hom geleer.

Die volgende kursus vind in November plaas en na afloop van die sessie saam met die oud-Bokbreier, sien die jong spelers baie uit na dié kursus.

Die spelers wat ingeskakel is by uMkhonto oefen ook drie dae ’n week onder die leiding van Lucas en Du Rand, albei provinsiale afrigters.

“Op dié stadium werk ons met 60 spelers tussen nege en 13 jaar oud. Ons fokus vir nou op die jonger spelers omdat ons glo dat ’n sterk tegniese basis belangrik is om later in die speler se lewe op te kan bou,” het Lucas gesê.

By die weeklikse sessies word daar sterk klem op vaardigheidontwikkeling geplaas en verskillende lekker balspeletjies en oefeninge word gebruik om elke fasset van die spel by die jong spelers vas te lê.

Lucas Meiring, Greg Miller, Dean du Rand, Pieter de Villiers (oud-Springbokafrigter) en Albert Biddlecombe het onlangs saam gewerk aan ‘n tegniekkursus vir jong rugbyspelers.

Hoewel die instituut reeds goeie ondersteuning van plaaslike ondernemings en die Investec Rugby-instituut ontvang, wil hulle graag ook uitbrei om ander sportsoorte in te sluit.

“Ons het spesifieke borge nodig vir onder andere krieket, netbal, hokkie, atletiek en gholf omdat ons glo dat daar groot geleenthede vir uitbreiding in dié sportsoorte is. Sou ons dié sportsoorte by ons instituut kon insluit, sal ons ’n werklike verskil in die lewens van jong plaaslike spelers en atlete kan maak.”

Onder die doelgerigte leiding van dié kranige afrigters, lyk uMkhonto Rugby-instituut se toekoms blink, en met die moontlike insluiting van die vyf ander sportsoorte gaan plaaslike sport ’n omwenteling ondergaan.

“Ons is nog net ’n paar maande besig met die spelers en ons kan al klaar sien hoe hulle begin uitblink.

“Ons kan nie wag om te sien wat die toekoms inhou nie en hoop dat uMkhonto-spelers nog diep spore gaan trap in plaaslike rugby.”

Vir meer inligting oor dié instituut of om betrokke te raak, skakel Albert Biddlecombe by 076 230 7503.

  AUTHOR
Willemien Aukema
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
26-year-old man beaten to death in Extension 25, eMbalenhle