Kind doen brandwonde op na drukkoker in haar gesig ontplof

Lynné Saunders, ’n gr. 9-leerder van Hoërskool Oosterland, het brandwonde in haar gesig opgedoen nadat ’n drukkoker Donderdag, 31 Augustus in haar gesig ontplof het.

Volgens haar ma, me. Ezelle Saunders, het Lynné graag vir die gesin kos gemaak en sy het dié middag ’n bredie gemaak.

“Sy het die pot van die stoof afgehaal en op die wasbak neergesit.”

“Sy is badkamer toe en toe sy terugkeer, het die pot opgehou stoom uitblaas en Lynné het dit probeer oopmaak.

“Die pot het ontplof en daar was stukke staal en kos oral.”

Me. Saunders was nie tuis toe die voorval gebeur het nie, maar het dadelik huis toe gegaan.

Lynné se ouma was voor haar tuis en toe me. Saunders tuiskom, het Lynné haar gesig in ‘n wasbak met koue water gehou.

“Ons het haar gesig in ’n bak koue water gehou en hospitaal toe gery.

By die hospitaal het hulle haar gesig verbind en reëlings getref om Lynné na Milpark Hospitaal in Johannesburg oor te plaas.

Lynné was teen die aand in Milpark Hospitaal en toe die gesin daar aankom, het ’n berader hulle reeds ingewag om die gesin by te staan.

“Die dokter, ’n plastiese chirurg, het my kind die Vrydagoggend ondersoek en vir haar gesê: ‘Sussa, jy gaan nie letsels oorhê nie’.

“Dié vroue-dokter het toe vir my kind gebid.”

Lynné is teater toe geneem waar sy behandeling ontvang het en teen Saterdagoggend is sy weer ontslaan.

Haar borste en rug het ook gebrand en haar gesig mag vir die volgende drie weke nie aan son, wind of weer blootgestel word nie.

Lynné wou egter só graag die Tap Toe-aand by Hoërskool Oosterland gaan kyk het die Saterdagaand, dat haar ma haar gesig toegedraai het en haar toegelaat het om vanuit die motor te sit en kyk.

Sy moet van volgende maand af weekliks dokter toe gaan vir laserbehandeling in haar gesig.

Die gesin het almal wat gehelp het, vanaf die verpleegsters tot die dokters, bedank.

“Hulle was almal engele wat op ons pad gestuur is,” het me. Saunders gesê.

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder

“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.

  AUTHOR
Jana Oosthuizen

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Dagga to the value of R10 000 found in suspects house