Lee-Anne het die belangrikheid van bloedskenking besef toe haar pa in ’n ernstige ongeluk betrokke was

Me. Lee-Ann Francke by haar pa, mnr. Koos Oosthuizen, na die ongeluk.

Me. Lee-Ann Francke het die belangrikheid van bloedskenking besef toe haar pa, mnr. Koos Oosthuizen (56), in ’n ernstige ongeluk betrokke was.

Hy moes op 12 Julie 48 eenhede bloed kry na die ongeluk in Middelburg.

Hy het verskeie breuke gehad en sy long is beskadig en sy bekkenbeen vergruis, en hy het inwendige bloeding gehad.

“As my pa nie daardie bloed gekry het nie, was hy dalk vandag dood,” het me. Francke vertel.

Sy het na dié voorval begin bloed skenk en wil probeer om die 48 eenhede wat haar pa ontvang het, op te maak.

Techno Park op Sasol waar me. Francke werk, het reeds op 7 September ’n bloedinsamelingsdag gehou en sy en haar kollegas het op dié dag 30 eenhede bloed ingesamel.

Sy het almal uitgedaag om te gaan bloed skenk Saterdag by Secunda Bloeddiens.

Me. Dot Prinsloo, skakelpersoon van Secunda Bloeddiens, het gesê hul mikpunt is om 100 eenhede bloed in te samel tydens die Geboei om te Bloei Bloedinsamelingsdag en die publiek moet 10 eenhede bloed skenk om een “gevangene” vry te laat.

Die bloeddiens sal Saterdag oop wees vanaf 8vm tot 1.30nm.

Om bloed te kan skenk, moet jy tussen 16 en 65 jaar oud wees, minstens 55kg weeg, goeie algemene gesondheid hê, ’n lae risiko lewenstyl lei en jou bloed as veilig beskou om aan ander te skenk.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBS) benodig minstens 3 000 eenhede bloed daagliks en slegs een persent van die bevolking skenk gereeld bloed.

Drie lewens kan gered word met elke eenheid bloed wat geskenk word.

Ondersteun Teksa Bloeddiens en besoek hul tak in Heunsstraat, of skakel die bloeddiens by 017 631 1652.

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder

“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.

Me. Lee-Ann Francke by haar pa, mnr. Koos Oosthuizen, na die ongeluk.

Bloed het mnr. Koos Oosthuizen se lewe gered.

  AUTHOR
Jana Oosthuizen

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Laerskool Goedehoop leerder kan ’n tennisbal moker